Turn2God Ministries

Baie Naby God

JIM CYMBALA

Dit was een van daardie gewone dae, wat jy opstaan en ʼn geleentheid benut om na ʼn oorsese spreker te gaan luister. Jy verwag om iets nuuts te hoor, maar nie noodwendig om ʼn lewensveranderende ervaring te hê nie. So eindig ek op by ʼn geleentheid waar Jim Cymbala bedien.

Hy het ʼn kosbare verhaal vertel van hoe hy by die Billy Graham Sentrum in Noord Carolina uit Markus 3:13-15 bedien het: Hy gaan toe teen die berg op en roep díé wat Hy wou hê nader en hulle het na Hom toe gekom. En Hy het twaalf, wat Hy ook apostels genoem het, aangestel sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek en volmag te hê om demone uit te dryf.

KONINKRYKSBURGERS MET ‘N MISSIE

Jesus het die twaalf dissipels geroep om sáám met Hom te wees. Vanuit hulle verhouding met Hóm sou hulle uiteindelik ook preek en demone uitdryf, maar dit moes nooit die fokus word nie. Hy het hulle geroep om saam met Hom lééf en bý Hom te wees. Hulle eintlike opdrag was dus ʼn baie naby verhouding met Jesus.

Johannes beskryf op uitsonderlike wyse hoe naby die dissipels aan Jesus geleef in 1 Johannes 1:1-3: Dit wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande aan geraak het, aangaande die Woord van die lewe – dié Lewe is geopenbaar en ons het gesien, getuig en verkondig aan julle die Ewige Lewe, wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Dit wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons ook aan julle sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; ons gemeenskap is met die Vader en met Sy Seun, Jesus Christus.

Ja, uiteindelik sou die dissipels aktief meewerk aan die vestiging van God se Koninkryk op aarde, maar dit was nie hulle primêre roeping nie. Hulle was nie slegs Jesus se dissipels nie; hulle was Sy vriende, Johannes 15:14.

In Engels verduidelik twee woorde hierdie kosbare verhouding waartoe Jesus Sy dissipels geroep het baie mooi:

  • Relationship – verhouding
  • Fellowship – gemeenskap

Relationship/verhouding kan op ʼn afstand gebeur. ʼn Mens staan in talle verhoudings – nie almal is naby verhoudings nie. Dis egter nie moontlik om fellowship te geniet in ʼn afstand verhouding nie. Fellowship/gemeenskap het ʼn komponent wat iemand baie naby aan jou bring. Johannes het dit probeer beskryf deur te sê:

  • Ons het na Sy stem geluister.
  • Ons het Hom gesien.
  • Ons kon aan Hom raak.

Hulle verhouding met Jesus was ʼn geïnternaliseerde verhouding.

‘N BOODSKAP VIR JOU EN MY

Jim het leraars en kerkleiers bedien en vir hulle gesê: Jesus het julle ook geroep, maar het julle begryp dat Hy julle na Hom toe geroep het? Dat Hy julle geroep om sáám met Hom te wees. Of het julle gedink Hy het julle geroep om te preek en mense te bedien om los te kom van die werk van die Bose? As preek en bediening julle fokus word, verloor julle fellowhip/gemeenskap met Jesus en wanneer dit gebeur is daar nie meer krag in jul prediking nie en word mense nie meer bevry van die bande, waarmee die Bose hulle gebind het nie. Julle roeping is om saam met Jesus te wees! Jesus called you to Him! You need to be with Jesus!

ʼn Jongman, Will Graham, Dr. Billy Graham se kleinseun het heel voor gesit en woord vir woord afgeskryf wat Jim gepreek het. Na die diens, terwyl Jim besig was om boeke te onderteken, het die jong Will hom kom roep. Hy moes dadelik kom. Will wou hom aan sy oupa gaan voorstel. Jim was verleë. Op daardie stadium was Billy Graham reeds 94 jaar oud en het hy kort vantevore sy vrou verloor. Jim het gevoel hy gaan in die pad wees en wou nie die ouer man pla nie.

Maar die jong Will was vasbeslote. Hulle moes dadelik ry. Hulle het oor die pragtige terrein teen die berg opgery na dr. Billy Graham se huis toe. Daar aangekom het Will sy storie vertel – hoe hy nooit besef het dat hy in die eerste plek geroep is om by Jesus te wees nie. Hoe hy rondgejaag, hard gewerk, oraloor bedien het en gedink het hy is besig om te doen, waarvoor hy geroep is. Die ou man se kop was meeste van die tyd gebuig – luisterend. En toe sê Will: Oupa, Oupa, weet jy wat? Dr. Graham het glo opgekyk. Oupa, hierdie boodskap was nie vir al die ánder mense wat die konferensie bygewoon het nie! Die boodskap was vir mý! Sag het Billy Graham gesê: No my son, this message was for me. I am 94 years old. Jesus called me to be with Him. I need to be with Jesus!

Jim Cymbala vertel hoe hy heelpad huis toe gehuil het. Hy het verder gesê: Seker die grootste evangelis van die vorige eeu, het voor my gesit. Hy kon sekerlik vir sy kleinseun gesê het: Yes my son that was the reason why I could reach millions for Jesus. Maar hy het nie. En toe sê Jim: He was humble. He took my simple message personal.

En toe word óns die geleentheid gegun om deur die boodskap gegryp te word: Jesus called us to be with Him too! We also need Jesus! Ons moes nes die dissipels begryp hoe nodig óns ook vir Jesus het! Nes Johannes en Petrus en Jakobus en al die ander apostels het ons nodig om sáám met Hóm te wees! Wat ʼn heerlik bevrydende gebeure!