JOU STORIE IS DEEL VAN ‘N GROTER VERHAAL
As medewerkers in God se Koninkryk gebruik Hy die eenvoud van jou en my storie om ʼn verhaal van redding te vertel. In Lukas 24:13-34 lees ons van Kleopas en nog ʼn volgeling van Jesus wat saam oppad terug was na Emmaus na die verskriklike gebeure rondom Jesus se kruisdood en Sy liggaam wat weggeraak het uit die graf. Die ander persoon se naam word nie genoem nie. Miskien was dit Kleopas se vrou? Daar bestaan ʼn moontlikheid dat Kleopas en Klopas dieselfde persoon was. Klopas word in Johannes 19:25 vermeld as Maria se man, een van drie vroue by die kruis met dieselfde naam. Saam met Jesus se aardse ma Maria, was haar suster, asook Maria Magdalena en Maria, die vrou van Klopas teenwoordig toe Jesus gesterf het. Daar bestaan dus ‘n moontlikheid dat Kleopas se metgesel sy vrou Maria was, wie weet?
Jesus het by hulle aangesluit oppad terug na Emmaus. Wat ʼn mens opval, is dat Jesus wat ál die feite gehad het vir Kleopas en sy metgesel toegelaat het om húl weergawe van Sý storie te vertel. Hulle het geleentheid gekry om hul teleurstelling en pyn te verwoord: hoe hulle geglo het dat Jesus die Jode gaan verlos, maar dat die leiers van Israel dit nie kon insien nie en Hom oorgegee het om gekruisig te word; hoe Jesus se liggaam uit die graf verdwyn het en hoe van die vroue uit hulle geledere teruggekeer het met ʼn storie dat hulle engele gesien het wat beweer dat Jesus lewe.
Toe Jesus op Sy kenmerkend eerlike dog liefdevolle manier opmerk dat hulle regtig stadig van begrip en traag van hart is, was hulle maar te gewillig om na Sy bemoedigende woorde te luister. Na alles húlle storie was een van teleurstelling en pyn. Hulle het só nodig gehad om weer te hóóp! Naby Emmaus het Jesus gemaak asof Hy gaan verder reis, maar die twee Emmausgangers wou Hom nie laat gaan nie. Hy móés eenvoudig by hulle oorbly – hulle het Hom en Sy lewegewende woorde só nodig gehad. En hier kom ons by die hoogtepunt van hul storie. Eers toe hulle Hom innooi om by hulle te vertoef en hulle saam aan tafel sit, het hul oë oopgegaan om Jesus in húl storie te herken.
Hulle kon so maklik naby Emmaus vir Hom ʼn geseënde reis toegewens het toe Hy gemaak het of Hy wou verder gaan. Dan het hulle slegs met die vertroosting wat Sy woorde vir hulle gebring het huis toe gegaan om kort daarna weer die koue werklikheid van Sy dood in die gesig te staar. Gelukkig het hulle Hom ingenooi. Saam met Hom aan tafel het hulle oë oopgegaan. Sy Teenwoordigheid het hulle in staat gestel om húlle storie te interpreteer binne die konteks van Sý storie – die ware verhaal! En toe kon niks hulle keer nie. Hulle was met entoesiasme vervul. Entoesiasme is afgelei van die Griekse woorde en Theos, wat in God beteken. Skielik het hulle hulself in God bevind. Hulle harte was vol van Hom en Sy Teenwoordigheid. Hulle moes eenvoudig met Jesus se ander volgelinge gaan deel wat hulle ontdek het!
Die twee Emmausgangers het dadelik teruggegaan Jerusalem toe om vir die ander dissipels te gaan vertel dat die vroue die waarheid gepraat het. Jesus léwe inderdaad! In Jerusalem aangekom was hulle nie die enigstes met ʼn nuwe storie nie. Voor hulle nog iets kon sê, het die elf apostels hulle voorgespring en vertel hoedat Jesus aan Simon Petrus verskyn het. Tóé eers het hulle kans gekry om húlle verhaal vol blydskap te vertel. En terwyl hulle na mekaar se stories luister, het Jesus skielik in hulle midde verskyn!
MY EN JOU STORIE
Ons het almal ʼn storie om te vertel. Ons lewensverhaal getuig ook van teleurstelling en pyn. Ons het ook voorveronderstellings en voorop- gestelde idees oor Jesus. Jy voel dalk ook in die steek gelaat. Soos die dissipels gehoop het dat Jesus die Jode sou verlos, het jy dalk ook gehoop dat Hy jóú uit ʼn bepaalde situasie sou red. Hulle het so min verstaan en nooit besef dat Hy juis die Jode én elke ander volk en nasie verlos het nie! Net so sal jy ook nie begryp wat Hy vir jou in jóú situasie gedoen het, voordat jy Hom nie in jou storie innooi nie. Hy stel jou in staat om jou om storie te herinterpreteer binne die konteks van die ware verhaal – Sý groot storie.
Hy wil graag jou storie in perspektief plaas en vir jou wys hoe dood eintlik tot lewe lei; hoe die einde die begin kan wees; hoe Hy jou nie teleurgestel het nie, maar deur die moeilike gebeure wat jy deurleef het vir jou ʼn wonderlike uitkoms wil verseker.
Pyn verblind ons vir God se Teenwoordigheid. Wanneer jy egter agterkom hoe jou lewenstorie met God se storie vervleg is; hoedat jy nooit alleen was nie, maar dat Hy heeltyd dáár was vir jou toe mense en gebeure jou skade berokken het, sal jou hart verstil tot vrede. Mettertyd sal entoesiasme vir Wie Hy is en wie jy is in jou begin opborrel. En dan, sonder dat jy dit kan verklaar, sal jy ervaar dat Jesus ook daar is wanneer jy jou storie – God se storie – met mense deel.