DIE GEESTELIKE EN SIMBOLIESE WAARDE VAN 6
Op die sesde skeppingsdag het God die aan die mens lewe gegee by wyse van twee baie pertinente handelinge: Sy aanraking en Sy asem. Die einde van die sesde dag was wonderlik. Dit was góéd! God het ʼn mens na Sy beeld en gelykenis tot stand gebring. 6 was ryk aan betekenis en inhoud!
Maar toe vind die sondeval plaas en ses word simbolies van die gevalle mensdom, wat die sesde gebod nodig het: Jy mag nie doodslaan nie!
Ses verwys ook na die vloek op die werk van die mens: Ses dae sal jy werk…
Ses het die simbool van slawerny geword. Die Griekse simbool vir 6, stigma, is op slawe gebrand om hulle te merk. ʼn Joodse slaaf moes 6 jaar vir sy eienaar werk, voordat hy in die sewende jaar weer vrygelaat moes word, Exodus 21:2.
Openbaring 13:18 dui aan dat 666 die merk van die dier is. Mense in wie God se beeld en gelykenis vervaag het en slawe van die sonde geword het, is uitgelewer aan die werk en die merk van die bose.
‘N TERUGKEER NA DIE OORSPRONKLIKE BEDOELING VAN 6
Dink net hoe wonderlik die einde van die sesde skeppingsdag was! God het iemand soos Hy gemaak. ʼn Wese met wie Hy Gees tot gees kon kommunikeer. Iemand met wie Hy in die sagte asem van die aandwind deur die tuin van Eden kon stap. En toe vind die sondeval plaas en daarna het ses ʼn simbool van menslike gebrokenheid en onvermoë geword.
Sedert die sondeval gaan die ganse geskiedenis oor hierdie enkele waarheid: God is besig om die mens terug te begelei na Sy oorspronklike plan en bedoeling met ons bestaan. Dis tog wat Jesus kom doen het, Hebreërs 10:10,14-18. Hy het ons weer in die regte verhouding met God kom vestig. Hy het die sonde wat ons van God geskei het, oorwin en ons rein en vlekloos verklaar en sodoende God se oorspronklike bedoeling met die mens kom herstel. In Christus kan ons onbevange terugkeer na ʼn bestaan binne die oorspronklike konteks van die syfer ses.
WORD WIE JESUS JOU GEMAAK HET
Ons kán weer mens na God se beeld en gelykenis wees deur Heilige Gees wat ons in alles rig en lei.
Ons kán weer vreugde in ons werk vind, omdat ons opnuut leer hoe om vanuit God se vermoë te opereer.
Ons kán weer seuns en dogters van die Almagtige wees, omdat elke slaweband van ons afgeruk is deur Jesus se verlossingswerk.
Ons ís draers van God se asem en aanraking en ons kán oral waar ons kom en almal wat ons aanraak met léwe bevrug. Ons ís mos Sy beeld en gelykenis!
Waarom lewe ons dan asof ons verlossing onvoldoende was? Waarom kruip ons steeds agter skanse en mure weg asof Christus ons nie ʼn lewe van oorwinning gegee het nie? Is dit omdat ons die leuens van die dier glo? Is dit dalk omdat ons nie besef dat die krag van sy merk meer as 2 000 jaar gelede reeds gebreek is nie?
GEROEP OM ‘N SEËN TE WEES
Partymaal moet ʼn mens net weer daaraan herinner word dat die Here ons geskep het om in drie verhoudings te funksioneer: in verhouding met Hom en vanuit ons verhouding met Hom, in verhouding met mekaar en die skepping. Indien enige van ons aardse verhoudings losgemaak word van ons verhouding met God, berokken dit mense onbeskryflike skade en word die skepping vernietig. Aan ons verhouding met mense en die natuur kan gesien word hoe lief ons vir God het.
Ons dra van ewigheid af Sy asem. Ons is nie geskep om dood en vernietiging aan te blaas nie. Ons het uit God se aanraking ontstaan en die ganse aarde skree na wat ons kan bied. Ons kán en móét voordurend in Christus-gelykvormigheid toeneem, sodat die wêreld Gód in ons kan sien. Daar word vertel van Franciscus van Assisi, dat wanneer hy in die woude van Duitsland gestap het, die wilde voëls en die bokkies na hom toe gekom het in plaas van om van hom af weg te vlug. Is dit moontlik omdat hy hierdie beginsel verstaan het?
Ses is die getal van die mens. Dis ryk aan betekenis en inhoud. Dit vertel die verhaal van ons redding, herstel en opstaan in God se oorspronklike bedoeling met ons. Die merk van die dier is kragteloos in die lig van hierdie grootse openbaring. Leef in oorwinning!